Baber voedingsbestuur

Baber (Clarias gariepinus) is `n geharde vis wat effektief teen hoë digtehede geproduseer kan word. Alhoewel die suurstof-dravermoë van die water nie baberproduksie so veel soos ander spesies beperk nie, behoort voedingsbestuur steeds te doel te hê om optimum waterkwaliteit en dus optimum visgesondheid te verseker.

Broeiery:
Pas-uitgebroeide babers absorbeer voedingstowwe uit `n groot dooiersak vir die eerste 5 tot 10 dae waarna hulle begin rondswem op soek na voedsel. `n Relatief goed-ontwikkelde spysverteringstelsel stel hulle in staat om voedsel reeds op `n vroeë ouderdom te verteer. Afhangende van die watertemperatuur kan babers op ongeveer 10 tot 14 dae geleidelik op droë kunsmatige voer gespeen word. Die speenproses duur 3 tot 5 dae waartydens sorg gedra moet word dat die vissies se mae meesal vol is, aangesien kannibalisme as gevolg van hongerte vir groot verliese verantwoordelik kan wees Die voertoelaag word opgedeel in 8 tot 10 voedings per dag. Vissies wat leer vreet word met uur-intervalle gevoer teen `n tempo van 25% van liggaamsgewig per dag. Soos wat die vis groei word dit verminder na vier to twee voedings van 5 tot 10% van liggaamsmassa per dag terwyl steeds in die broeiery. Voorsorg moet getref word dat alle voer ingeneem word aangesien ongevrete voer bydra tot verswakte waterkwaliteit. Voere wat op die broeiery-bodem versamel moet gereeld verwyder word om toestande so higiënies moontlik te hou. `n Meel- of krummel aanvangsrantsoen word vir die eerste 1 tot 2 weke voorsien, waarna die klein vissies vanaf die broeiery na produksie damme oorgeplaas word.

Uitplasing van klein vissies:
Dit is moeilik om klein vissies in groot produksie damme te voer aangesien die jong en relatief swak swemmers oor die dam uitgesprei is en nie in staat is om vinnig te beweeg na die punt waar gevoer word nie. Die beste manier om goeie groei en oorlewing van die vissies te verseker, is om voorsorg te tref dat daar aanvanklik voldoende natuurlike en lewende voer tesame met voldoende kunsmatige aanvangsvoere daagliks beskikbaar is in die water wanneer die vissies uitgeplaas word. Voorsorg moet egter getref word dat die water vry is van enige potensiële predatore, veral van platannas en krappe wat groot verliese kan veroorsaak. Die eenvoudigste manier om `n dam vir uitplasing voor te berei is deur bemesting om die ontwikkeling van natuurlike voedsel te stimuleer. Daarna behoort daar vir een of twee keer per week vir 3-4 weke na uitplasing met bemesting volgehou te word. Na `n paar weke sal die klein vissies gegroei het to vingerlinge (“swim-up”) van 6 of 12 sentimeter lank en na die oppervlak kom op soek na voedsel (tussen dag 14 en dag 17, begin die fry hul asemhalingstruktuur vorm). Sodra die vingerlinge effektief rondswem en in staat is om volledig op vervaardigde voer te voed is bemesting is nie langer nodig nie. Gedurende hierdie periode is kanibalisme waarskynlik die grootste oorsaak van vrêktes en moet voorkom word deur voldoende voervoorsiening. Die vis ontvang kunsmatige voere twee keer per dag teen `n tempo van 10%, dalend na 2-3% van die liggaamsmassa per dag vir die oorblywende gedeelte van die groeiseisoen. Die voertoelaag word bereken op grond van liggaamsmassa en watertemperatuur (sien Tabel 2). `n Voedingsprobleem wat soms voorkom in 5-8 weke-oue vingerlinge (3-5g) is die sogenaamde “Ruptured Intestine Syndrome (RIS), ook bekend as “Open Belly Syndrome” en word geassosiëer met hoë voertempo. Dit word veroorsaak deur `n oormatige afskeiding van soutsuur in tydens voerinname wat dan die maagwand van die vis verteer.

Tabel 1. Voorbeeld van voer aanbevelings vir baber van verskillende grootte.

Voertipe Visgrootte
(g)
Proteien inhoud
(%)
Partikel grootte
(mm)
Voerfrekwensie
(voedings/dag)
Voor-Aanvangsvoer ("Pre-Starter")* <0.25 44-52 (48) 0.50 9
Voor-Aanvangsvoer (“Pre-Starter”)* 0.25-1.5 44-52 (48) 0.5-1.0 9
Voor-Aanvangsvoer (“Pre-Starter”)* 1.5-5.0 44-52 (48) 1.0-1.5 9
Aanvangsvoer (“Starter”)** (“Semi-intensief”) 5-30 32 1.5-2.0 4
Aanvangsvoer (“Starter”)** (“Semi-intensief”) 30-50 32 3.0 4
Aanvangsvoer (“Starter”)** (“Intensief”) 5-30 36 2.0 6
Aanvangsvoer (“Starter”)** (“Intensief”) 30-50 36 3.0 6
Groei 1 (“Semi-intensief”) 50-100 28 3.5 2
Groei 1 (“Semi-intensief”) 100-200 28 4 2
Groei 1 (“Semi-intensief”) >200 28 6 2
Groei 2 (“Intensief”) 50-100 32 3.5 3
Groei 2 (“Intensief”) 100-200 32 4 3
Groei 2 (“Intensief”) >200 32 6 3
Broei (“Broodstock/Breed”) - 28-32 9 1-2
Die optimum voer partikel grootte is ongeveer 2.2% van liggaamslengte.

Aangesien `n babers koudbloedig is word hul metabolisme, en dus ook die aanbevole voertoelaag en frekwensie grootliks beïnvloed deur watertemperatuur. Die optimum temperatuur vir goeie voerverbruik en groei in baber is ongeveer 30°C. Sodra die watertemperatuur egter onder 21°C daal, raak dit minder ekonomies om baber te voer aangesien hulle swak vreet en hul groeitempo drasties afneem by lae temperature. In die winter benodig baber maar 25% van die voer wat gedurende warm somermaande gevoer moet word. `n aanbeveelde wintervoeding vir babers in damme voorsien 0.75–1% van liggaamsmassa in voer indien die watertemperatuur op 1m diepte meer is as 13°C. Die aanbevelings in Tabel 2 kan as handleiding vir winter voeding dien.

Tabel 2. Voorbeeld van voorgestelde voerfrekwensie vir baber by verskillende water temerature

Water Temperatuur (°C) Voor-aanvangs en aanvangsvoere Groeivoere
> 30 2 keer per dag 1 keer per dag
26-30 4 keer per dag 2 keer per dag
20-26 2 keer per dag 1 keer per dag
15-20 1 keer per dag 1 keer per dag
10-115 Twee-daagliks Twee-daagliks
<10 elke 3e tot 4e dag elke 3e tot 4e dag

As gevolg van die groot seisoenale temperatuurverskille in Suid-Afrika, word die baber groeiseisoen beperk to ongeveer 6 maande van die jaar in grootste gedeelte van die land. Wintervoeding kan dus duur en ongerieflik raak in vergelyking met groeitoename wat verkry kan word, maar dra wel by tot verhoogde siekteweerstand van oorwinterde vis. Lae proteïen voer (25%) word aanbeveel vir wintervoeding van mark-gereed vis van groter as 250g. Gedurende die koudste maande moet slegs op die warmste dae gevoer word. Ad libitum voeding word nie in wintermaande aanbeveel nie aangesien mis-opbou kan lei tot waterkwaliteit probleme.

Tabel 3. Voorbeeld van daaglikse voertoelaag aanbevelings vir baber van verskillende groote by verskillende watertemperatuur

Vismassa (g) Temperatuur
16 18 20 22 24 26 28 30
>15 2.2 2.5 2.9 3.2 3.5 3.8 4.1 4.4
15-50 1.8 2.1 2.4 2.7 3 3.2 3.5 3.7
50-100 1.4 1.6 1.9 2.1 2.3 2.5 2.7 2.9
100-200 1.2 1.3 1.5 1.7 1.9 2 2.2 2.3
200-300 1 1.1 1.3 1.4 1.6 1.7 1.8 1.9
300-500 0.8 1 1.1 1.2 1.3 1.4 1.5 1.6
500+ 0.6 0.7 0.8 0.9 1 1.1 1.2 1.3

Kommersiële korrels is beskikbaar in sinkende en drywende vorm. Die mees geskikte tipe voer vir babers is geëkstrueerde voerkorrels wat op die water dryf. Dit gee die baber genoeg kans om te vreet voordat die korrels na die bodem sink en maak verder doeltreffende waarneeming van die babers moontklik tydens voeding - vis kan sodoende tot ad libitum gevoer word teen die maksimamum inname sonder oorvoeding, en siekte en waterkwaliteitsprobleme kan maklik waargeneem word. Vis wat gewoond is aan drywende voere sal op die oppervlak vreet gedurende die winter maar vis wat nie aangepas is tot oppervlak voeding nie sal nie goed vreet nie. Broeivis toon soms dieselfde probleem. Om hierdie probleem die hoof te bied kan `n mengsel van 85% sinkende tot 25% drywende voerkorrels gedurende die winter gevoer word.

Lourens de Wet

 
 
© Aquanutro 2002 | Disclaimer |