|
Bodenlose voerbak vreet marge
Die unieke water-omgewing waarin vis geproduseer word gee
`n spesiale dimensie aan voedingsbestuur in akwakultuurstelsels
wat totaal verskil van die voeding van tradisionele plaasdiere.
Enkele riglyne word gegee wat kan help dat brood op die water
`n groeiende belegging omskep word.
Net soos weidings vir herkouers, kan die natuurlike water-organismes
in ekstensiewe akwakultuurstelsels `n waardevolle en koste-besparende
bydrae maak in die voedselvoorsiening van vis. Veral vis wat
laag in die voedselketting voed baat hierby, soos tilapia
en karp, waar die water `n waardevolle bron van protein, energie
en ander belangrike voedingstowwe vorm. Net so kan die kalsium-absorbsievermoë
van vis vanuit die omringende water byvoorbeeld die aanvulling
daarvan vir soms bykans onnodig maak. In sulke ekstensiewe
produksiestelsels word vis baie ekonomies geproduseer indien
vinnige groei van markgereed vis nie `n voorvereiste is nie.
Soos die produksie-intensiteit egter vergoot deur verhoogde
behuisingsdigthede, raak die produsent al hoe meer afhanklik
van die gebruik van volledige voere (Figuur 1). Hierdie voere
is soms duur en indien dit nie optimaal aangewend kan word
nie kan die produsent spoedig kontantvloeiprobleme ondervind,
veral in die lig van die lang groeiperiode van sekere vis
spesies.

Figuur 1. Relatiewe belang van natuurlike
en kunsmatige voedsel in die voeding van akwatiese organismes
in ekstensiewe, semi-intensiewe en intensiewe produksiestelsels.
Die optimalisering van voeromsettingsdoeltreffendheid is
`n essensiële grondslag van die ekonomiese benutting
van voere. Dit is geskans op effektiewe voerbenutting, en
dus minimum voervermorsing – dit vereis dus `n akkurate
bepaling van voerinname en ligaamsmassatoename. Akkurate bepaling
van voerinname word egter in akwakultuurstelsels bemoeilik
aangesien daar nie van voerbakke gebruik gemaak word waarin
voer afgeweeg kan word nie. Dit is gewoonlik een van die eerste
probleme wat die voornemende akwakultuurprodusent in ag moet
neem wanneer hy letterlik sy brood op die water moet werp
en hoop dat hy met die groeiprestasie van die vis vergoed
sal word. Voer wat nie gevreet word nie, kan nie terug geskep
word om weer die volgende dag gevoer te word nie - sodra voer
op die dam bodem gaan lê word dit dikwels nie later
gevreet nie. Gevolglik vind daar voedingstof uitloging vanuit
die voerkorrels plaas wat hul voedingswaarde verlaag, en uiteindelik
verrot dié wat nie gevreet is nie Voer wat dus nie
binne `n aanvaarbare tyd deur die vis gevreet word nie verteenwoordig
`n “blinde” ekonomiese verlies vir die boer.
Voerverbruik en voedingsgedrag word hoofsaaklik bepaal deur
vis-verwante faktore soos spesie, ouderdom, liggaamsgrootte,
en watertemperatuur, sowel as deur voerfrekwensie en die energiekonsentrasie
in die voer. Voertabelle word op grond hiervan deur voervervaardigers
saamgestel om boere `n basiese riglyn te gee vir die aanwending
van voer. Dit ondersteun gewoonlik eerder maksimum voeromsettingsdoeltreffendheid
as maksimum groeitempo aangesien aanbevole voervlakke onder
die maksimum versadigingsvlak van vis is. Ongevrete voer word
sodoende beperk en gevolglik ook gepaardgaande waterkwaliteitsprobleme.
Vis behoort oor die algemeen minder gevoer behoort te word
as wat hulle sal vreet omdat oorvoeding sal veroorsaak dat
die vis die voere minder doeltreffend benut. Aangesien bestuurs-
en omgewingstoestande op plase verskil, behoort hierdie voertabelle
dus nooit rigied nagevolg te word nie, maar moet deur goeie
waarneming van die voedingsgedrag van die vis en ondervinding
aangepas word. Daar behoort elke twee weke steekproewe van
`n gedeelte van die vispopulasie geneem te word om die voertoelaag
aan te pas.
Vis toon `n afname in voerinname tydens uitermatige daling
van die watertemperatuur. Die rede hiervoor lê in die
koudbloedige aard van vis waar hul metabolisme beïnvloed
word deur liggaamstemperatuur, en dus deur die omgewingstemperatuur.
`n Styging in watertemperatuur veroorsaak op sy beurt weer
`n afname in die suurstof-dravermoë van die water en
gevolglik `n afname in die vis se aptyt. Verder word soortgelyke
suurstoftekorte dikwels ondervind in plant- en alg-ryke water
tydens periodes van swak lig-intensiteit. Omdat plante en
alge bedags fotosintetiseer en dus suurstof produseer en snags
suurstof verbruik, word groot fluktuasies in die opgeloste
suurstofvlakke konstant ondervind. In alg-ryke water behoort
voeding dus nooit té vroeg in die oggend of saans plaas
te vind nie aangesien voeding `n verhoging in metablisme en
dus suurstofverbruik veroorsaak – in tye wat die vis
juis maksimum suurstof tot sy beskikking behoort te hê
vir die optimale benutting van voedsel. Waak selfs daarteen
om op reënerige of tydens lang periodes van bewolktheid
voluit te voer. Die situasie kan tydens sulke periodes verlig
word deur effektiewe belugtig van die water om te verhoed
dat te veel suurstof fluktuasies voorkom.
Om te verseker dat alle vis `n gelyke vreetkans kry behoort
die voer oor die grootste moontlike oppervlak van die produksiestelsel
uitgesprei te word. Dit voorkom dat dominante vis ander verhoed
om te vreet en verminder die voorkoms bytmerke as gevolg van
onderlinge kompetisie vir vreetspasie - en gevolglik variasie
in visgrootte. `n Verdere hulpmiddel is die gebruik van stadig-sinkende
geëkstrueerde voere om die vis voldoende kans te gee
om te vreet en nie noodwendig onmiddelik vinnig na die dambodem
afsak nie. Dit bied die boer die voordeel van beter waarneming
tydens voeding. Geëkstrueerde voere is meer waterstabiel
as konvensionele druk-verkorrelde voer en verbrokkel nie so
maklik met waterkontak nie. Dit verbeter veral die optimale
voerbenutting van veral stadig-vretende vis.
Goeie waarneming van die voedingsgedrag van vis is `n voorereiste
vir effektiewe voedingsbestuur. Alhoewel meganiese voerders
die voordeel bied dat arbeidskoste verminder word en vis toegelaat
word om daagliks meer gereeld te vreet, behou handvoeding
die waardevolle voordeel dat menslike kontak met die vis behou
word. Vis moet noukeurig gevoer word om hulle toe te laat
om voldende hoeveelheid voer in te neem om maksimum te kan
groei, maar sonder dat hulle oorvoer word. Aandag moet veral
daaraan gegee word dat vis die die grootte krummels of korrels
gevoer word en waar nodig, voer-stof en te klein krummels
uit te sif om voervermorsing en `n gepaardgaande afname in
waterkwaliteit te voorkom. Swak water kwaliteit plaas `n verdere
rem op optimale gesondheid en groeiprestasie van die vis,
en dus op die produksiekapasiteit van die akwakultuurstelsel.
Lourens de Wet
|