Bodenlose voerbak vreet marge

Die unieke water-omgewing waarin vis geproduseer word gee `n spesiale dimensie aan voedingsbestuur in akwakultuurstelsels wat totaal verskil van die voeding van tradisionele plaasdiere. Enkele riglyne word gegee wat kan help dat brood op die water `n groeiende belegging omskep word.

Net soos weidings vir herkouers, kan die natuurlike water-organismes in ekstensiewe akwakultuurstelsels `n waardevolle en koste-besparende bydrae maak in die voedselvoorsiening van vis. Veral vis wat laag in die voedselketting voed baat hierby, soos tilapia en karp, waar die water `n waardevolle bron van protein, energie en ander belangrike voedingstowwe vorm. Net so kan die kalsium-absorbsievermoë van vis vanuit die omringende water byvoorbeeld die aanvulling daarvan vir soms bykans onnodig maak. In sulke ekstensiewe produksiestelsels word vis baie ekonomies geproduseer indien vinnige groei van markgereed vis nie `n voorvereiste is nie. Soos die produksie-intensiteit egter vergoot deur verhoogde behuisingsdigthede, raak die produsent al hoe meer afhanklik van die gebruik van volledige voere (Figuur 1). Hierdie voere is soms duur en indien dit nie optimaal aangewend kan word nie kan die produsent spoedig kontantvloeiprobleme ondervind, veral in die lig van die lang groeiperiode van sekere vis spesies.

Figuur 1.

Figuur 1. Relatiewe belang van natuurlike en kunsmatige voedsel in die voeding van akwatiese organismes in ekstensiewe, semi-intensiewe en intensiewe produksiestelsels.

Die optimalisering van voeromsettingsdoeltreffendheid is `n essensiële grondslag van die ekonomiese benutting van voere. Dit is geskans op effektiewe voerbenutting, en dus minimum voervermorsing – dit vereis dus `n akkurate bepaling van voerinname en ligaamsmassatoename. Akkurate bepaling van voerinname word egter in akwakultuurstelsels bemoeilik aangesien daar nie van voerbakke gebruik gemaak word waarin voer afgeweeg kan word nie. Dit is gewoonlik een van die eerste probleme wat die voornemende akwakultuurprodusent in ag moet neem wanneer hy letterlik sy brood op die water moet werp en hoop dat hy met die groeiprestasie van die vis vergoed sal word. Voer wat nie gevreet word nie, kan nie terug geskep word om weer die volgende dag gevoer te word nie - sodra voer op die dam bodem gaan lê word dit dikwels nie later gevreet nie. Gevolglik vind daar voedingstof uitloging vanuit die voerkorrels plaas wat hul voedingswaarde verlaag, en uiteindelik verrot dié wat nie gevreet is nie Voer wat dus nie binne `n aanvaarbare tyd deur die vis gevreet word nie verteenwoordig `n “blinde” ekonomiese verlies vir die boer.

Voerverbruik en voedingsgedrag word hoofsaaklik bepaal deur vis-verwante faktore soos spesie, ouderdom, liggaamsgrootte, en watertemperatuur, sowel as deur voerfrekwensie en die energiekonsentrasie in die voer. Voertabelle word op grond hiervan deur voervervaardigers saamgestel om boere `n basiese riglyn te gee vir die aanwending van voer. Dit ondersteun gewoonlik eerder maksimum voeromsettingsdoeltreffendheid as maksimum groeitempo aangesien aanbevole voervlakke onder die maksimum versadigingsvlak van vis is. Ongevrete voer word sodoende beperk en gevolglik ook gepaardgaande waterkwaliteitsprobleme. Vis behoort oor die algemeen minder gevoer behoort te word as wat hulle sal vreet omdat oorvoeding sal veroorsaak dat die vis die voere minder doeltreffend benut. Aangesien bestuurs- en omgewingstoestande op plase verskil, behoort hierdie voertabelle dus nooit rigied nagevolg te word nie, maar moet deur goeie waarneming van die voedingsgedrag van die vis en ondervinding aangepas word. Daar behoort elke twee weke steekproewe van `n gedeelte van die vispopulasie geneem te word om die voertoelaag aan te pas.

Vis toon `n afname in voerinname tydens uitermatige daling van die watertemperatuur. Die rede hiervoor lê in die koudbloedige aard van vis waar hul metabolisme beïnvloed word deur liggaamstemperatuur, en dus deur die omgewingstemperatuur. `n Styging in watertemperatuur veroorsaak op sy beurt weer `n afname in die suurstof-dravermoë van die water en gevolglik `n afname in die vis se aptyt. Verder word soortgelyke suurstoftekorte dikwels ondervind in plant- en alg-ryke water tydens periodes van swak lig-intensiteit. Omdat plante en alge bedags fotosintetiseer en dus suurstof produseer en snags suurstof verbruik, word groot fluktuasies in die opgeloste suurstofvlakke konstant ondervind. In alg-ryke water behoort voeding dus nooit té vroeg in die oggend of saans plaas te vind nie aangesien voeding `n verhoging in metablisme en dus suurstofverbruik veroorsaak – in tye wat die vis juis maksimum suurstof tot sy beskikking behoort te hê vir die optimale benutting van voedsel. Waak selfs daarteen om op reënerige of tydens lang periodes van bewolktheid voluit te voer. Die situasie kan tydens sulke periodes verlig word deur effektiewe belugtig van die water om te verhoed dat te veel suurstof fluktuasies voorkom.

Om te verseker dat alle vis `n gelyke vreetkans kry behoort die voer oor die grootste moontlike oppervlak van die produksiestelsel uitgesprei te word. Dit voorkom dat dominante vis ander verhoed om te vreet en verminder die voorkoms bytmerke as gevolg van onderlinge kompetisie vir vreetspasie - en gevolglik variasie in visgrootte. `n Verdere hulpmiddel is die gebruik van stadig-sinkende geëkstrueerde voere om die vis voldoende kans te gee om te vreet en nie noodwendig onmiddelik vinnig na die dambodem afsak nie. Dit bied die boer die voordeel van beter waarneming tydens voeding. Geëkstrueerde voere is meer waterstabiel as konvensionele druk-verkorrelde voer en verbrokkel nie so maklik met waterkontak nie. Dit verbeter veral die optimale voerbenutting van veral stadig-vretende vis.

Goeie waarneming van die voedingsgedrag van vis is `n voorereiste vir effektiewe voedingsbestuur. Alhoewel meganiese voerders die voordeel bied dat arbeidskoste verminder word en vis toegelaat word om daagliks meer gereeld te vreet, behou handvoeding die waardevolle voordeel dat menslike kontak met die vis behou word. Vis moet noukeurig gevoer word om hulle toe te laat om voldende hoeveelheid voer in te neem om maksimum te kan groei, maar sonder dat hulle oorvoer word. Aandag moet veral daaraan gegee word dat vis die die grootte krummels of korrels gevoer word en waar nodig, voer-stof en te klein krummels uit te sif om voervermorsing en `n gepaardgaande afname in waterkwaliteit te voorkom. Swak water kwaliteit plaas `n verdere rem op optimale gesondheid en groeiprestasie van die vis, en dus op die produksiekapasiteit van die akwakultuurstelsel.

Lourens de Wet

 

 
 
© Aquanutro 2002 | Disclaimer |