Die speen van vis in plaasdamme

Natuurlike voedsel soos lewende fito- en sooplankton is baie voedsaam en in vrugbare damme maak dit `n groot en ekonomiese bydrae tot die produksie van garnale en vis soos tilapia, karp en babers. Dit vind veral toepassing tydens die speen van jong vis en die ekstensiewe en semi-intensiewe produksie tot markgrootte.

Sodra die pas-uitgebroeide vissies se dooiersakreserwes uitgeput is, moet `n alternatiewe bron van voedingstowwe voorsien word om hul groei te verseker. In die natuur begin hulle rondswem op soek na natuurlike organismes. Onder kommersiële akwakultuur is hierdie bron van natuurlike voedsel egter afwesig vanweë die kunsmatige omgewing waarin hulle geproduseer word.

Die voorsiening van lewende voedsel soos alge en ander klein insekte speel egter `n belangrike rol in die voedselvoorsiening van klein vissies: om hulle geïnteresseerd te hou in hul voedsel en hulle sodoende vinniger te leer vreet totdat hulle in staat is om kunsmatige voedsel te verteer. `n Voldoende voorsiening van lewende voedsel help ook om probleme soos “uitskieters” en gevolglike kannibalisme te beperk. Verder bevat lewende voedsel-organismes sekere groeifaktore wat essensiëel is vir normale liggaamsontwikkeling.

Pas nadat die dooiersak geabsorbeer is, ondervind sekere vissoorte probleme met aanpassing op kunsmatige voere tydens hul eerste voeding. Vanweë `n onvolwasse en onder-ontwikkelde spysverteringstelsel en dus as gevolg van die afwesigheid van sekere verteringsensieme word voere moeilik verteer en voedingstekorte kom gereeld voor (karp ontwikkel selfs nooit `n ware maag nie.). Larwale vis ondergaan verskillende fases van metamorfose en spysverteringskanaal-ontwikkeling en kan wel teen `n sekere stadium gespeen word op droë, kunsmatige voedsel. Soos die vis groei, raak die kunsmatige voer toenemend belangrik totdat `n stadium bereik word wanneer dit fisies die enigste dieet vorm

Só kan karp byvoorbeeld volledig oorgeplaas word op kommersiële droë voere op grootte van 15 tot 30 mg. Die oorskakeling na droë voere is egter `n geleidelike proses en behoort aanvanklik slegs aanvullend tot natuurlike voedsel te wees en behoort nie die enigste bron van voedsel te vorm nie. Die toedining van kunsmatige voer behoort egter in `n beperkte mate te begin op die dag van uitplasing van die vis sodat hulle so vroeg moontlik aan die smaak daarvan gewoond kan raak.

BYDRAE VAN NATUURLIKE PRODUKTIWITEIT
In ekstensiewe en semi-intensiewe akwakultuurstelsels voorsien natuurlike voedsel `n belangrike bron van voedingstowwe (geheel en al of gedeeltelik) aan vis totdat markgrootte bereik word. Die groeitempo van vis wat `n hierdie stelsels geproduseer word is egter aansienlik stadiger in vergelyking met intensiewe stelsels, maar in terme van voerkoste word baie bespaar. Aangesien tilapia sulke doeltreffende voerder/benutters van natuurlike voedsel is, word hulle dikwels geproduseer in damme met lae-koste byvoeding. Só is goeie opbrengste al behaal deur die voer en bemesting met ryssemels, brouersafval, koffiepulp, en dieremis. Natuurlike voedsel (natuurlike produktiwiteit) dra merkwaardig by tot die voorsiening van proteïen en daarom bevat sekere voere warmwatervis in gronddam stelsels slegs 24% ruprotein.

Die kapasiteit van natuurlike voedselproduksie van `n dam word bepaal deur die mate van verreiking van die water met organiese en anorganiese bemestingstowwe. `n Voorbeeld van `n effektiewe kombinasie van anorganiese en organiese bemestingstowwe is hoendemis en ammonium fosfaat. Organiese bemestingstowwe verhoog fitoplanktongroei (mikroskopiese plante wat water sy groen kleur gee) wat as substraat dien vir verdere soöplankton- en insekgroei dien.

Afhangende van die dagliglengte en watertemperatuur, ontwikkel so `n trofiese web gewoonlik ongeveer 10 dae na bemesting. Daar moet dus begin word om die dam te bemes vir `n tydperk voor die uitplasing van vis sodat voldoende tyd beskikbaar is vir die ontwikkeling voldoende natuurlike voedsel (ongeveer 14 dae in die geval van garnaal). Voordat die larwes losgelaat word, word hulle intensief gevoer met 3 uur intervalle, aangesien gereelde voeding in die dam nie sal aanvang neem tot die volgende dag nie. Té uitplasings van vis na bemesting of die toediening van té groot hoeveelhede bemetingstowwe kan egter soms sporadiese gevolge op visproduksie hê: vanweë die voorkoms van ryk algpopulasies (“algal blooms”) vind groot suustof fluktuasies in die water plaas as gevolg van fotosintese. Verder veroorsaak te veel organiese bemesting dat die normale afbraak-prosesse op die dambodem anaerobies raak wat kan lei to die vrystelling van giftge gasse en produkte wat skadelik kan wees vir vis met moontlike mortaliteite. In sulke geval kan kan belugting van die water noodsaaklik raak om te verhoed dat suurstof tekorte gedurende bewolkte of donker periodes voorkom wanneer suurstof deur die alge vanuit die water onttrek word.

Organiese bemesting is `n goeie bron van stikstof en fosfaat, maar die organiese materiaal dien ook as direkte voedselbron vir insekte en soöplankton, en verrot stadig om voedingstowwe vry te stel vir die stimulering `n plankton bloei. Voorbeelde van organiese bemestingstowwe sluit plantaardige bronne soos lusern korrels, katoensaadmeel, en hoë kwaliteit hooi, en dieremis soos vark, pluimvee en beesmis in. Kombinasies van plant en dierebronne vind ook soms groot toepassing in akwakultuur. Damme word tot ½ of 2/3 werksvlak met water gevul voordat bemesting plaasvind. Voordat vis uitgeplaas word, word die damme verder volgemaak. Tabel 1 voorsien aanbevelings vir organiese bemesting wat alleen as riglyne moet dien - waterkwaliteit behoort voortdurend dopgehou te word om aanpassing hierop te maak.

Tabel 1. Riglyne vir die organiese bemesting van akwakultuurstelsels

Bron Toediening (ton/ha)*
Plantaardige bemestingstowwe 2-3
Vars diere mis 3-7
Droë hoendermis 0.5*
*1m watervlak
In sanderige grond kan `n addisionele 500 kg/ha toegedien word `n stabiele plankton bloei te verseker

Nog `n voorbeeld van organiese bemesting is die geïntigreerde produksies van vis in kombinasiemet vark, gans en hoenderproduksie in geïntigreerde akwakultuurstelsels waar laasgenoemde diere se vars mis direk tot beskikking van die water is vir die organiese bemesting daarvan

Organiese bemesting kan afgewissel word met anorganiese bemesting. Een van die voordele van anorganiese bemesting is dat die toedieningsdosisse baie meer noukeurig bepaal kan word en toegepas kan word met veel meer gerustheid (sien Tabel 2).

Tabel 2. Voorbeeld van voorgestelde voerfrekwensie vir baber by verskillende water temerature

Bron Toediening (ton/ha)*
Enkel bemestingstowee
Superfosfaat 100-150
Amoniumsulfaat (veral in alkaliese water), ammonium nitriet of ureum 100-150
Kombinasies
Ammoniumsulfaat en gelyke hoeveelheid superfosfaat 60+60
• Ureum en gelyke hoeveelheid trippelfosfaat 100+50
*1m watervlak

Vloeibare hoë-fosfaat bemestingstowwe (10-34-0 en 13-18-0) is ook baie effektief om vinnige alggroei te verseker (begin met `n aanvanklike tempo van 9kg fosfor per ha).

In ekstensiewe of semi-intensiewe produksiestelsels is onderhoudsbemesting essensiëel vir die handhawing van natuurlike produktiwiteit. Die daaglikse toediening van 20-35kg droë mis per ha is veilig vir die voorkoming van dratiese suurstof fluktuasies. Dit kan verder verhoog na 100-120kg per dag afhangende van die behuisingsdigtheid van die dam. In medium tot hoogs produktiewe polikultuur stelsels, waar aanvullende voeding toegepas word, word NPK bemesting teen `n verhouding van 18:8:4, en teen `n tempo van 500kg/ha/jaar toegepas

Voordat klein vissies losgelaat word kan ongewenste predatoriese insekte met behulp van deur organiese esters van fosforsuur geëlimineer word (0.3mg/l of 3kg/ha op `n diepte van 1m). Daarna kan bemesting voortgaan teen een of twee keer per week vir 3-4 weke nadat die vis uitgeplaas is. Bemesting kan geleidelik verminder word sodra die vingerlinge die kunsmatige aanvangsvoer (30-40% proteïen) begin vreet. 1 Liter voer kan daagliks fyngemaak word per 100 000 vissies. Die optimum grootte van die voerpartikels met visgrootte maar behoort nooit 20% van die mond-opening te oorskry nie. Sodra die vis volledig op kunsmatige voer gespeen is, moet voer so gereeld as moontlik beskikbaar wees - `n voerfrekwensie van 10 tot 24 keer per dag en in oorvloed word aanbeveel.

Lourens de Wet

 
 
© Aquanutro 2002 | Disclaimer |