|
Karoteen - die verbruiker sien rooi
Intense vleiskleur is kommersiëel belangrik vir
forelboere aangesien verbruikers sterk voorkeure daarvoor
het. Lourens de Wet verduidelik hoe afrondingsvoer gebruik
word om hierdie gewenste kleur te verseker.
Koud-gerookte forel is ‘n gesogte lekkerny wat veral
byval vind in voorgeregte in uitsoek restourante. Die visprosesseerder
het spesifieke voorvereistes vir ‘n kenmerkende oranje-rooi
kleur wat intensiteit behou wanneer die vleis in papierdunrepies
gesny word vir bemarking aan restourante. Aangesien bemarking
van forel direk afhanklik is vanaf die visgrootte en die intensiteit
van die vleiskleu, is dit vir die forelboer van uiterste belang
om te sorg dat sy vis se vleiskleur aan hierdie voorvereiste
voldoen indien hy dit van die hand wil sit.
Die natuurlike vleiskleur van geproduseerde forel is normaalweg
byna spierwit. Pigmentering verwys dus na die verkryging van
‘n “kunsmatige” oranje-rooi kleur van die
vleis deur insluiting van sekere karoteen-pigmente in forelafrondvoere.
Die term “karoteen” is afgelei vanaf “ß-karoteen”,
‘n pigment teenwoordig in wortels wat verantwoordelik
is vir die oranje kleur en een van meer as 300 karoteen pigmente
wat natuurlik voorkom in verskeie kleurryke alge, plante en
diere. So is die kenmerkende vleiskleur van forel en salm
die gevolg van die aansameling van spesifieke karoteen-pigmente
in die spier van die forel, naamlik astaxanthin en canthaxantin,
wat onderskeidelik verantwoordelik is vir rooi en pienk kleur.
In die natuur speel hierdie pigment-reserwes ‘n belangrike
rol tydens broeityd aangesien mannetjies dit onttrek na hul
vel om hulle aantrekliker te maak tydens die hofmaakproses,
terwyl die wyfies dit na hul eiers onttrek om die eiers te
beskerm teen die son se ultravioletstrale nadat dit gelê
is. Dit verhoog verder die oorlewing van die eiers wanneer
die suurstof gehalte van die water laag is (te danke aan verbeterde
gaswisseling).
Indien die forel dus onder normale produksietoestande geen
toegang tot natuurlike karoteen-bronne (soos garnale of krappe)
het nie, moet dit deur kommersiële voere voorsien word,
aangesien die forel nie in staat is om hierdie karoteen pigmente
self te sintetiseer nie. Die karoteen-inhoud van natuurlike
karoteen-bronne varieer egter baie en veroorsaak soms wisselvallige
pigmentering. Die feit dat dit nie altyd geredelik beskikbaar
is nie veroorsaak soms logistieke probleme vir die voervervaardiger
en daar is verskeie pogings aangewend om ander natuurlike
bronne soos paprika en Phaffia Rhodozoma gis asook sintetiese
bronne te ondersoek. Reeds in die sestigerjare het voervervaardigers
oorgeskakel na sintetiese analoë van hierdie pigmente
en sedertdien het dit byna die enigste betroubare keuse vir
insluiting in forelvoere geword. Sintetiese karotenoïede
is beskikbaar in stabiele geënkapsuleerde korrels wat
8% of 10% aktiewe astaxanthin of canthaxanthin bevat.
Die insluiting van pigmente in voere kan die prys van afrondingsvoere
met tot 20% verhoog en so ook voerkoste. Onkundige voedingsbestuur
in `n poging om hierdie verhoogde voerkoste te verlaag kan
egter beplanning om die vis betyds markgereed te kry in die
wiele ry. Die vis-aankoper of prosesseerder sal geensins twyfel
om swak-gekleurde forel weg te wys nie of die boer sonder
enige gronde vir prys-bedinging laat. Om forel dus ekonomies
af te rond moet daar in gedagte gehou word dat pigementering
deur verskeie faktore beinvloed word:
- Vinnige groei en goeie voeromsettingsdoeltreffendheid
noodsaak ‘n verhoging in insluitingsvlak om te verseker
dat pigmentdeponering steeds proporsioneel tot voerinname
bly. ‘n Hoë voeromsettingsdoeltreffendheid laat
toe vir laer insluitingsvlakke en korter voerperiodes en
omgekeerd. So word daar in sekere Europese top-prestasie
voere vlakke van tussen 65 en 75 mg Astaxanthin per kg voer
vir die grootste gedeelte van die produksieperiode aanbeveel.
- Voersamestelling en veral vetinhoud het ‘n groot
invloed op die rakleeftyd van die voer en gevolglik op die
effektiwiteit van die pigmente in die voer. Die insluiting
van antioksidante vir die doeltreffende beskerming van hierdie
pigmente teen hitte, lig en suurstof in die voer sowel as
in die vleis is noodsaaklik.
- Die geslag van onvolwasse forel beïnvloed skynbaar
nie pigmentering nie alhoewel groot verskille intree na
geslagsrypheid wanneer mannetjies en wyfies tot 60% van
die gedeponeerde karoteen vir broeidoeleindes mobiliseer.
Dit ondersteun dus die motivering om forel te bemark voordat
geslagsrypheid intree aangesien dit ‘n negatiewe invloed
op pigmentering het.
- Karoteenpigmente dien as voorlopers vir die vorming van
vitamien A, met ander woorde in tye van enige vitamine A-tekort
kan die vis die pigment vir die sintese van vitamien A gebruik.
Die omgekeerde vind ongelukkig nie plaas nie. Veral gedurende
tye van stres wanneer die vitamien A-reserwes maklik uitgeput
raak, word karoteen reserwes in die vis vir hierdie doel
aangewend word. Dit verklaar hoekom forel soms swak pigmenteer
wanneer baie warm temperature heers, of siektetoestande
voorkom.
- Daar bestaan ‘n liniêre verwantskap tussen
visgrootte en doeltreffendheid van karoteenpigmentering
en dit verbeter soos wat die vis groei. Pigmentering is
swak in jong forel en begin slegs effektief verbeter nadat
die vis ‘n massa van ongeveer 100 gram bereik, waarna
‘n bevredigende vlak bereik word indien die vis se
massa verdubbel. Die gebruik van sintetiese karotenoïede
word deur lidlande van die Europese Unie beperk tot vlakke
van nie meer as 100 mg/kg van óf astaxanthin óf
canthaxanthin in volledige voere en hul gebruik word beperk
tot forel en salm van ouer as 6 maande.
Forel wat bestem is vir die bordgrootte-mark word in die
algemeen ‘n afrondvoer gevoer wat 35 tot 50 mg pigment
per kilogram droë voer bevat vanaf ‘n 100 gram
massa totdat hulle gereed is vir bemarking. Forel wat vir
die prosesseringmark geproduseer word, ontvang gewoonlik ‘n
afrondvoer wat 40 tot 50 mg karotenoïed per kilogram
voer bevat gedurende die laaste 14 weke van produksie. 500
tot 1000 gram forel pigmenteer effektief na ‘n gewigstoename
van 20 tot 30%. Sommige boere verkies selfs om reg deur die
jaar gepigmenteerde voere te voer om te verseker dat enige
vis wat vroeë volwassenheid bereik voldoende gekleur
is en dus bemarkbaar is.
Tabel 1. Algemene aanbevelings
vir die gebruik van forel-afrondvoere
|
Aantal weke voor bemarking |
Astaxanthin-inhoud
van die afrondvoer |
| 6 weke voor bemarking |
100 dpm (dele per miljoen) |
| 10 weke voor bemarking |
75 dpm |
| 14 weke voor bemarking |
50 dpm |
| Broeivis |
25 tot 75 dpm agt tot vier maande voor die
aanvang van die broeiseisoen |
|
|
|
30 mg Astaxanthin per kilogram voer behoort voldoende te
wees vir die onderhoud van kleur in groot vis. Kleiner vis
sal hul kleur egter geleidelik verloor op hierdie vlak veral
gedurende wintermaande en benodig dus veel hoër vlakke
vir kleuronderhoud. Indien die vis aktief groei en dus onvoldoende
pigmentvlakke ontvang, sal die bestaande Astaxanthin uitsprei
oor die nuwe spiermassa en die relatiewe vlak van Astaxanthin
verlaag. Astaxanthin-onderhoudsvlakke hou dus finansiële
besparing vir die boer in mits die vis nie geslagsvolwassenheid
nader nie.
‘n Minimum konsentrasie van 6 mg Astaxanthin per kg
vleis lewer gewoonlik ‘n produk wat vir die mark aanvaarbaar
is. Aangesien die roetine bepaling van Astaxanthin in die
vleis duur en tydrowend is, het die vervaardigers van pigmente
‘n visuele metode ontwikkel wat vinnig en eenvoudig
die vlak van pimentering kan evalueer. Die bekendste en mees
algemene stelsel wat in die veld gebruik word is die Roch
kleurwaaier vir die kleurbepaling van filette. Dit het onlangs
hul kleurkaart vervang en bied die boer en prosesseerder ‘n
veel groter keuse van verskillende skakerings van rooi waarmee
die forel se vleiskleur vergelyk kan word. Alhoewel die oorgang
na die waaiersisteem verwarring veroorsaak oor watter sisteem
om te gebruik, kan boere wat nog nie toegang tot die waaiers
het nie die volgende aanpassing vanaf hul kaartwaardes maak:
Die waaier waarde is byna twee maal dié van die kleurkaarte
minus drie. Byvoorbeeld: 15 op die kleurkaart sal ‘n
waarde van (15x2)-3=27 op die waaier gee, en omgekeerd (27+3)/2=15
indien dit weer teruggeskakel word vanaf die waaier.
Die omstandighede waaronder die lesings gedoen word, verskil
soms afhangende van die tipe beligting waaronder lesings geneem
word. Net so beïnvloed die mate van uitdroging van die
vleis-oppervlak en selfs van die gemoedstoestand van die persoon
die lesing wat geneem word. Waar vis vir ‘n varsmark
geproduseer word, behoort dit ‘n kaartwaarde van ten
minste 15 en ‘n waaierwaarde van ten minste 28 te hê,
terwyl prosesseerders vir berokingsdoeleindes waardes van
16 en 30 onderskeidelik mag vereis. Vir die boer is dit dus
raadsaam om in oorleg met die prosesseerder wat sy vis aankoop
uit te klaar wat sy verwagte standaarde vir vleiskleur is
deur weekliks monsters te stuur vir kontrolering vir ongeveer
een maand voor lewering. Dit behoort frustrasie uit die weg
te ruim wanneer daar vir prys gekompromeer moet word indien
die vis nie aan die “vereiste” standaarde voldoen
nie. Die boer moet onthou dat hy nie meer vergoed sal word
vir vis wat bokant hierdie standaardvlak is nie en dat hy
dus moet vermy om meer pigment te gebruik as wat die mark
bereid is om voor te betaal nie. Sodra die vis dus die gewenste
kleur bereik, moet die vis net op daardie vlak gehandhaaf
word om kostes te bespaar op “oor-pigmentering”.
Lourens de Wet
|