Reënboogforel voedingsbestuur

Die voeding van reënboogforel (Onchorhynchus mykiss) behels lank nie meer die gebruik van vliegmaaiers en abbatoir-afgekeurde lewers nie. Volledig-geballanseerde kunsmatige voere voorsien in die voedingsbehoeftes van forel tydens verskillende groeistadiums. Hierdie voere is egter duurder en moet kundig bestuur word om potensiële inkomsteverliese te vermy.

Reënboogforel is karnivories en jag dus in die natuur op ander lewende organismes. Hierdie aggressiewe en opportunistiese voedingsgedrag is `n belangrike faktor om in ag te neem met vbestuur van forel in intensiewe produksiestelsels. Forel toon byvoorbeeld `n voorkeur vir voerkorrels wat dryf of stadig deur die waterkolom sink, maar verloor belangstelling sodra dit op die modderige bodem gaan lê. Binne 5 tot 10 sekondes nadat die voerkorrels die water tref word hulle gulsig opgeraap.

Ongeveer 30 dae na uitbroei is die absorbsie van die dooiersak van die klein-vissies voltooi en begin hulle aktief rondswem op soek na voedsel. Anders as met vis met `n larwale tussen stadium, is klein forel teen hierdie tyd reeds in staat om droë voere effektief te benut. Lewende voedsel soos Daphnia kan wel in hierdie beginstadium addisioneel voorsien word om die klein vissies te leer vreet en hulle geïnteresseerd te hou in die voer. Aktief swemmende vissies behoort ten minste elke uur gedurende normale ligperiodes met die hand gevoer te word. Indien ongevrete voer gereeld van die bodem verwyder word kan hulle selfs óórvoer word om goeie aanpassing op droë voer te verseker. Forel kan rofweg 1% van liggaamsmassa per voeding gegee word, sodat die daaglikse voerfrekwensie daarvolgens aangepas kan word (gewoonlik 10 voedings per dag van 1% van liggaamsmassa elk). Voer behoort ten minste oor twee derdes van die wateroppervlak uitgesprei naaste aan die water-inlaat waar die sterkste vissies is. Dit verseker gelyke toegang tot die voer wat sal help om variasie in groei te beperk en `n eweredige visgrootte handhaaf. Outomatiese voerders naby die water-inlaat kan hier van veel waarde wees maar dit behoort nie handvoeding heeltemal te vervang nie. Die waarneming van vis tydens handvoeding bly steeds van onskatbare waarde vir doeltreffende voedingbestuur.

Soos die vis groei en goed leer vreet behoort die voerfrekwensie verminder te word (sien Tabel 1.) aangesien meer en dus kleiner voedings die toegang van individuele vis tot voer beperk weens kompetisie vir vreet-spasie. Dit lei tot die dominering van groter vis by die voerpunt en verhoed kleiner en swakker vis om goed te vreet. Indien al die vis in die produksiestelsel nie suksesvol kan kompeteer vir gelyke voerinname nie, onstaan groot variasie in die groeitempo en liggaamsmassa tussen vis wat die situasie net verder vererger. Die voorkoms van stres as gevolg hiervan asook van byt wonde en beserings is kenmerkende tekens van dominansie. Té veel voedings per dag maak dit verder ook moeilik om te bepaal of al die vis óór- of ondervoed is. Dit is dus duidelik dat “stadige voeding van klein porsies voer” nie noodwendig “noukeurige voeding” is nie. `n Hoë voertempo/laer voerfrekwensie (deur gebruik van `n groter voerskop of selfs `n skopgraaf) wat wyd oor `n wye area uitgesprei word, word eerder benodig word om voldoende vreetkaans vir al die vis te gun. Só sal 2-3 voedings van 10-20 minute daagliks effektiewe inname by bord-grootte vis verseker. Voorsorg moet egter getref word dat daar nie te vinnig gevoer word nie, want indien voer afsak na die dambodem, sal forel dit selde vreet.

Tabel 1. Voorbeeld van voer aanbevelings vir reënboog forel var veskillende grootte

Voertipe Visgrootte
(g)

Proteien inhoud
(%)
Partikel grootte
(mm)
Voerfrekwensie
(voedings/dag)
Voor-Aanvangsvoer ("Fry") 00 <0.5 47-52 <0.5 10
Voor-Aanvangsvoer (“Fry”) 01 0.5-2 47-52 0.5-1 10
Voor-Aanvangsvoer (“Fry”) 02 2-6 47-52 1-1.5 10
Voor-Aanvangsvoer (“Fry”) 03 6-20 47-52 2 10
Aanvangsvoer (“Starter”) 1 20-50 45+ 3 6-8
Aanvangsvoer (“Starter”) 2 50-100 45+ 4 6-8
Groei (“Grower”) 1 100-200 38+ 4 3-5
Groei (“Grower”) 2 200-400 38+ 6 3-5
Groei (“Grower”) 3 >600 38+ 9 3-5
Afrond (“Finisher’) 1 100-200 38+ 4 3-5
Afrond (“Finisher’) 2 200-400 38+ 6 3-5
Afrond (“Finisher’) 3 >600 38+ 9 3-5
Broei (“Breeder”)   38+ 9 1-2
Rekreasie (“Recreational”)   38+ 6-9 1-2

Vis behoort van voer weerhou te word vir `n periode voor en na hantering. Vir roetine hantering soos inenting, gradering of die neem van steekproewe, is `n 24 uur vasting voldoende. Indien vis oor `n lang afstand vervoer moet word of geslag gaan word behoort hulle vir `n minimum van 2 tot 3 dae gevas te word. Alhoewel voertabelle (Tabel 2) en voedingbestuur-sagteware `n goeie aanbeveling gee van die daaglikse voertoelaag vir optimum voeromsettingsdoeltreffendheid, behoort dit verminder te word tydens siekte en uitermatige temperatuurskommelinge wanneer vis selde `n goeie aptyt toon. Aangesien vis koudbloedig is word hul metabolisme tot `n groot mate gereguleer deur die heersende watertemperatuur. Tydens lae watertemperatuur word die aktiwiteit van die spysverteringstelsel vertraag sodat voedsel stadiger deur die sisteem beweeg. By temperature van meer as 20°C funksioneer die spysverteringstelsel nie optimaal nie en word voere swak of gedeeltelik verteer voordat dit uitgeskei word. Dit veroorsaak `n voedingstof-oorbelading van die water. Tesame met die lae suurstof-dravermoë van warmer water veroorsaak dit dikwels respiratoriese nood wat te alle tye vermy behoort te word. Voertoelaag behoort in sulke omstandigehede verminder te word om voervermorsing te voorkom goeie waterkwaliteit te onderhou. Tabel 2 kan as riglyn dien vir vis van groter as 100 gram.

Tabel 2. Aanbeveelde voerfrekwensie vir 100gram en swaarder forel by watertemperature onder Standaard Omgewings Temperatuur (15°C vir forel).

Water Temperatuur °C Voedings per dag
5-10 3
10-13 4
13-18 5
18-20 3
>20 2

In die natuur word wilde salm en forel gedurende sekere tye van die jaar gekenmerk deur `n unieke pienk vel- en vleiskleur. Die pigmente wat hierdie unieke kleur veroorsaak kan nie deur die vis gesintetiseer word nie maar word in die natuur vanaf die inname van verskeie organismes geabsorbeer.Hierdie kleur speel veral `n belangrike rol tydens die hofmaakproses voor paring wanneer rooi en pienk pigmente vanaf die vleis na die vel onttrek om die forel meer aantreklik te maak. `n Groot gedelte van die pigment word tydens geslagsrypheid na die ovarium van die vroulike diere onttrek waar dit in die eiers neergelê word om die vrygestelde eiers te beskerm, veral in periodes wanneer die lae suurstofgehalte van die water die gaswisseling vandie eier kan benadeel. - dit beskerm ook die eiers treen ultra-violet. Verder is hierdie pigmentneerlegging in die vleis ook kommersiëel belangrik aangesien verbruikers sterk voorkeure vir vleiskleur ontwikkel het - die suksesvolle bemarking van forel is grootliks hiervan afhanklik.

Onder produksie-omstandighede, met die afwesigheid van natuurlike pigmentbronne, is die neerlegging van hierdie pigmente afhanklik van die insluiting daarvan in afrondvoere. Dit is egter duur en die koste van insluiting beloop tussen 12-16% van die koste van voer. Daar bestaan `n liniêre verwantskap tussen visgrootte/massa en pigmentering waar die pigmentdeponering doeltreffendheid vergroot met visgrootte. Pigmentering is swak in jong forel en begin slegs betekenisvol verbeter bokant 100 gram. Teen `n insluitingsvlak van 50 dele per miljoen pigment kan suksesvolle pigmentering bewerkstellig word binne 3 maande indien die vis aktief groei. Hierdie insluitingsvlak kan verhoog word indien pigmentering oor `n korter perode benodig word (sien Tabel 3)

Tabel 3. Voertoelaag aanpassing gebasseer op die gebruik van voermandjies

Produksiestadium Voer-aanpassing met volgende voeding
12 weke voor slagting 50
8 weke voor slagting 75
4 weke voor slagting 100
Broeivis 25 tot 75 dpm vier tot agt maande voor broeiseisoen

Indien broeivis vir die broeiseisoen voorberei word behoort die daaglikse voertoelaag verminder te word aangesien oorvoeding die vis se reproduktiewe prestasie in hierdie periode kan benadeel. Afhangende van die watertemperatuur behoort broeivis van voer onthou te word 3 tot 4 weke voor broeityd, en dan geleidelik terug gebring te word na vol voeding oor `n periode van 2 tot 4 weke daarna. Hierdie vastingsperiode is belangrik om die kontaminasie van die eiers met mis te beperk.

Tabel 4. Voorbeeld van daaglikse voertoelaag aanbevelings vir forel van veskillende grootte by verskillende water temperature

Vismassa (g) Temperatuur
6 7 8 9 10 11 12 13 14 15 16 17 18 19 20
>0.5 3.6* 4 4.3 4.7 5 5.4 5.8 6.3 6.8 7.3 7.5 7.3 6.9 6.5 6.1
0.5 - 1.5 3 3.3 3.6 3.9 4.3 4.6 4.9 5.2 5.6 6.1 6.3 6.1 5.6 5.3 5.1
1.5 - 5.25 2.5 2.7 3 3.2 3.4 3.7 3.9 4.2 4.6 4.9 5.1 4.9 4.6 4.3 4.2
5.25 - 12 1.9 2.1 2.3 2.5 2.7 2.9 3 3.2 3.5 3.7 3.9 3.7 3.5 3.3 3.2
12 - 25 1.4 1.6 1.7 1.8 2 2.1 2.3 2.4 2.6 2.8 3 2.8 2.6 2.5 2.4
25 - 40 1.2 1.3 1.4 1.5 1.7 1.7 1.9 2 2.1 2.3 2.4 2.3 2.1 2.1 2
40 - 60 1 1.1 1.2 1.3 1.4 1.5 1.6 1.6 1.8 1.9 2 1.9 1.8 1.7 1.6
60 - 90 0.9 1 1 1.1 1.2 1.3 1.4 1.4 1.5 1.7 1.7 1.7 1.5 1.5 1.4
90 - 120 0.8 1.9 1.9 1 1.1 1.1 1.3 1.3 1.4 1.5 1.5 1.5 1.4 1.4 1.3
120 - 150 0.7 0.8 0.8 0.9 1 1 1.1 1.1 1.2 1.3 1.4 1.3 1.2 1.2 1.1
150 - 200 0.6 0.7 0.7 0.8 0.9 0.9 1 1.1 1.1 1.2 1.3 1.2 1.1 1.1 1
200 - 300 0.6 0.7 0.7 0.8 0.9 0.9 0.9 1 1 1 1 1 0.9 0.9 0.9
300 - 500 0.6 0.7 0.7 0.8 0.8 0.8 0.8

0.9

0.9 0.9 0.9 0.9 0.8 0.8 0.8
500 - 750 0.5 0.6 0.6 0.7 0.7 0.7 0.7 0.8 0.8 0.8 0.8 0.8 0.7 0.7 0.7
750+ 0.4 0.5 0.5 0.6 0.6 0.6 0.6 0.6 0.6 0.6 0.6 0.6 0.6 0.6 0.6
* voedingspeil as % van liggaamsmassa per dag

Lourens de Wet

 
 
© Aquanutro 2002 | Disclaimer |