Voerberging vir maksimum rakleeftyd

Die gebruik van ou voere hou gevare vir diere in wat kan lei tot abnormale gedrag, swak voedingsrespons en groei, algemene verlies aan kondisie en selfs die dood. Enkele praktiese wenke word bespreek om die maksimum rakleeftyd van voere te verseker.

Voere behoort nooit direk op betonvloere of in kontak met betonmure (veral buitemure) geberg te word nie.
Voere behoort nooit direk op betonvloere of in kontak met betonmure (veral buitemure) geberg te word nie.

Voere
Voer het ’n beperkte rakleeftyd waarna sekere chemiese veranderinge intreë wat die voedingswaarde daarvan drasties laat afneem en onaangename smake en reuke veroorsaak. Hierdie chemiese veranderinge moet dus beperk word om die maksimum voordeel uit voere te haal. Verskeie faktore beïnvloed die unieke rakleeftyd van verskillende voere.

Die voginhoud van voere is naverwant aan die relatiewe humiditeit in die voerstoor. Indien die voginhoud van die voere verhoog word, vergroot die potensiaal vir die indringing van insekte en mikroörga-nismes. ’n Relatiewe humiditeit van tot 70% skep ideale omstandighede vir progressiewe insekvermeerdering, terwyl hoër vlakke die situasie kan kompliseer met die vorming van klonte in die voer as gevolg van muf en swamme. Hoë temperature kan sensitiewe voedingskomponente in die voer beskadig en die beskikbaarheid daarvan vir groei verminder. Die kanse op insek- en mikroörganisme-indringing vermeerder by temperature van meer as 25oC met verdere gevolglike verliese. As gevolg van die hoë relatiewe humiditeit en temperature in tropiese gebiede kan voere nie vir veel langer as twee tot drie maande geberg word nie, terwyl gematigde gebiede ’n rakleeftyd van tot nege maande kan onderhou.

Indien hoë-energie voere aan hoë bergingstemperature blootgestel word, is hul kanse op oksidasie of galsterigheid veel groter as vir konvensionele voere.

Galsterige vette bevat ongewenste komponente wat bind met voedingstowwe in die voer en die beskikbaarheid daarvan aan die dier verminder, die smaaklikheid van die voer verlaag en groei onderdruk. Alhoewel suurstof noodsaaklik is vir die ontwikkeling van oksidatiewe galsterigheid, is dit onprakties om suurstof van die bergingsareas uit te sluit. Dit verwyder egter nie die noodsaaklikheid om korrekte bergingsprosedures te volg nie.

Mikroörganismes kom algemeen voor in grondstowwe wat in voere ingesluit word en neig om die chemiese veranderinge wat normaal met verloop van tyd plaasvind, te versnel. Alhoewel groot hoeveelhede organismes deur die hoë temperature van sekere voervervaardigingsprosesse ver-nietig word, bly hul spore in rustende vorm agter en herbesmet die voer sodra toestande vir groei en ontwikkeling gunstig raak. Hierdie mikroörganismes produseer gifstowwe wat die voer onsmaaklik maak en allergië en gewigsverlies by diere veroorsaak. Gemufte voere wat klonte vorm en warm voorkom, behoort onmiddelik uit die bergingsarea verwyder en vernietig te word om verdere besmetting te voorkom. Net so kan insekte soos vlieë, kakkerlakke, motte, kalander en miet baie skade aan voer veroorsaak en dit blootstel aan verdere beskadiging en kontaminasie met mikroörganismes. Indien insekpopulasies ’n sekere digtheid bereik, stel hulle hitte vry as gevolg van hul metaboliese aktiwiteite. Waar sulke populasies baie dig raak, kan die voer temperature van tot 45oC bereik. Geassosieërde mikroörga-nismes kan hierdie temperatuur verhoog tot selfs 75oC, wat bederwing en selfs spontane verbranding tot gevolg kan hê. Knaagdiermis en -urine kan voere in groot hoeveelhede kontamineer, en só siektetoestande soos leptospirose, tifus, en salmonellose veroorsaak. Werkers wat die voere hanteer behoort dus bewus te wees van die potensiële siekterisiko en moet aange-raai word om enige sny- of skraapwonde te bedek indien voer hanteer word.

Algemene riglyne vir maksimum rakleeftyd van gebergde voer:

  • Bergingsfasiliteite moet uitsluitlik vir voer gebruik word. Dit behoort beveilig te word teen diefstal en geïsoleer wees van diereproduksie-areas om die gevaar van sekondêre siektebemetting deur byvoorbeeld afleweringsvoertuie en personeel te verminder.
  • Verkorrelde voere behoort nie hardhandig hanteer te word nie: voersakke moet nie laat val of gegooi word nie en werkers moet bewus wees om nie onnodig op die sakke te trap nie.
  • Voer wat gemors is, moet gereeld verwyder word aangesien dit broei-areas en skuiling voorsien aan insekte en knaagdiere. Spasies waar knaagdiere die voerstoor kan binnedring behoort afgeseël te word en die area rondom die voerstoor behoort goed-gedreineer en vry van opdrifsels te wees. Deure behoort dig te sluit, en houtdeure behoort met ’n 20 cm metaalstrook aan die onderkant voorsien te word om te voorkom dat knaagdiere toegangsgate kan maak. Voerstore behoort valle te hê in plaas van gif om verdere voerkontaminasie (deur die diere self) te voorkom. Beroking met fostoksien help om ongewenste insekte te elimineer.
  • Droë voere moet in goed-geventileerde koel en droë omstandighede weg van direkte sonlig geberg word (wenslik onder 20oC en teen ’n relatiewe humiditeit van minder as 75%). Die insuleringseienskappe van die boumateriaal en die ventilasie-patroon binne die gebou moet in ag geneem word, aangesien dit krities is in die regulering van temperatuur en humiditeit.
  • Voere behoort nooit direk op betonvloere of in kontak met betonmure (veral buitemure) geberg te word nie. Beton-oppervlaktes is gewoonlik kouer as die lug en voer en kan gevolglik veroorsaak dat kondensasie voorkom en klammigheid vorm. Voere moet eerder op houtpalette gestapel te word: stapels van maksimum 6 tot 8, geskei deur houtpalette om effektiewe lugsirkulasie te verseker.
  • Voere behoort nie vir langer as drie maande na die vervaardigingsdatum geberg te word nie, en ’n "eerste in – eerste uit" bergingspraktyk behoort gevolg te word. Voere moet vars en op gereelde basis, indien moontlik maandeliks, aangekoop te word om pro-bleme te voorkom wat met langtermyn-berging geassosieer word. Voerbesendings behoort duidelik identifiseerbaar te wees om te verseker dat ouer voorraad voor nuwes gebruik word.
  • Elke besending voer moet geïnspekteer word vir enige afwykings in tekstuur, kleur of reuk, asook vir die teenwoordigheid van insekte, swamme of koekvorming. Indien enige probleme met die voerkwaliteit opgemerk word, moet voermonsters geneem word vanuit elke vyfde van 50 sakke voer, saamgevoeg in dieselfde houer, geseël en verkoel vir latere ontleding. Besmette voersakke moet geïsoleer word en die voervervaardiger onmiddelik in kennis gestel word.
  • Volledige rekords moet gehou word van elke besending voer wat op die plaas afgelewer word (sien voorbeeld).

Voorbeeld van afleweringsinventaris

Lourens de Wet

 
 
© Aquanutro 2002 | Disclaimer |