Waarom omgewingsvriendelike voere

Die onoordeelkundige keuse en gebruik van akwavoere is nie alleen skadelik vir die omgewing nie, maar kan ook produksie aan bande lê. Lourens de Wet verduidelik.

 

Waterbesoedeling is oor die hele wêreld ’n groot kopseer en die besorgheid rakende die impak van boerdery daarop neem daagliks toe.

Voer voorsien primêr voedingstowwe aan die vis, maar is ook die hoofbron van afvalprodukte daarvan (sien Figuur). Voerverwante besoedelingskomponente in die vorm van onbenutte stikstof, fosfate en organiese materie oorbelaai die water op ’n onnatuurlike wyse en bring merkwaardige veranderinge in water-kwaliteit mee, soos waterverryking en alggroei. Gepaardgaande hiermee verswak die water se suurstof-dravermoë en onderdruk visgroei aangesien die vis nou moet kompeteer vir die verminderde beskikbare suurstof in die water. Daarby word die opbou van besoede-lingskomponente geassosieër met die vrystelling van skadelike gasse soos waterstofsulfied en metaan wat ’n gesondheidsrisiko kan veroorsaak. Tydens oes word die vang van vis en garnale vanuit gronddamme vergemoeilik vanweë die ophoping van sediment en slik. Soos akwakultuurproduksie uitbrei en intensifiseer, kan die potensiaal vir die ontstaan van waterkwaliteit pro-bleme nog verder vergroot.

Die rol wat tipe voer en voedingsbestuur op die behoud van waterkwaliteit het

Gedeelde verantwoordelikheid

Die effektiefste manier om afvalstowwe te verminder is deur die ontwikkeling van omgewingsvriendelike voere. Dit word dus die verantwoordelikheid van die voervervaardiger om voere te ontwikkel wat nie alleen aan wetlike voedingsvereistes (Wet 36 van 1947) voldoen nie, maar ook aan omge-wingsvereistes.
Die verantwoordelikheid teenoor die besoedelingsdilemma lê egter nie alleen by die voervervaardiger nie maar ook by die boer. ’n Omgewingsvriendelike voer het geen waarde indien dit on-oordeelkundig aangewend word nie. Die onoordeelkundige gebruik van voer in intensiewe akwakultuurstelsels het 'n merkbare afname in die waterkwaliteit tot gevolg.

Natuurbewaringsregulasies word al strenger en meer en meer druk word op boere geplaas om aan hierdie probleem aandag te gee. Dit is dus vir die boer noodsaaklik om te weet tot watter mate sy stelsel se uitvloeiwater besoedel is. Hierdie inligting kan verder gebruik word vir ’n aanduiding van drakragbepaling waar water hergebruik word. In ’n poging om water besoede-ling in sommige Skandinawiese en Europese lande te beperk, word boere reeds aangemoedig om omgewingsvriendelike voere te gebruik en om water-kwaliteitsbeheermaatreëls te implementeer. Dit word gedoen deur die addisionele belasting van voere wat nie aan omgewingsvereistes voldoen nie.

Voedingsbestuur behoort voeromsettingdoeltreffendheid te verbeter en voervermorsing en waterbesoedeling te beperk. Swak voedingsbestuur veroorsaak nie alleen besoedeling nie, maar het ook siektes, stadige groei, lae oorlewing, en dus groot finansiële verliese tot gevolg.

Swak geformuleerde akwavoere veroorsaak onnodige besoedeling

Hoe lyk omgewingsvriendelike voere?

  • Dit bevat ’n hoër energie:proteïen verhouding om sodoende stikstofuitskeiding te beperk. (Stikstof is ’n afvalproduk van die proteïen-metabolisme van vis en dus ook ’n besoedelaar.)
  • Die totale fosfor-vlakke in hierdie voere is oor die algemeen laer as dié van konvensionele voere en bevat bronne waarvan die fosforbeskikbaarheid hoog is.
  • Om die afvalstowwe vanaf voere te verlaag, word die verteerbaarheid van voere en grondstowwe verbeter om ’n groter assimilasie van voedingstowwe in voere deur diere te verseker met ’n gevolglike beter voeromsettingsdoeltreffendheid.
  • Waterstabiliteit word verbeter deur voldoende prosessering (soos ekstrusie) en die insluiting van effektiewe bindmiddels. Sodoende word beter korrelstabiliteit en minder voedingstof-uitloging aan die water bewerkstellig.
  • Omgewingsvriendelike voere word geformuleer deur die wyer benutting van alternatiewe proteïenbronne en die eliminering van grondstowwe met onbekende antivoedingsfaktore

Verbeter voedingsbestuur só

  • Voer die vis, nie die dam nie: dra sorg dat alle voer verbruik word en ongevrete voer beperk word.
  • Pas die voedingsfrekwensie aan by die visgrootte: kleiner vis moet meer gereeld as groter vis gevoer word.
  • Verhoog die voertoelaag indien die natuurlike voedsel in die stelsel laag is.
  • Pas die voerpartikel-grootte aan met die visgrootte: gebruik groter partikels soos die vis groei.
  • Sprei die voer oor ’n groot area uit om te verseker dat dit al die vis in die stelsel bereik. Dit verminder variasie in visgrootte, kannibalisme en voervermorsing.
  • Moenie voer indien vis onder stres verkeer nie – hulle sal nie veel belangstelling toon nie en gevoerde kos sal verlore gaan en alleen bydra tot verswakte waterkwaliteit. Verlaag die voertoelaag indien die watertemperatuur verhoog of indien die opgeloste suurstof van die water te laag is en die southeid daarvan te hoog.
  • Voorsien effektiewe infrastruktuur vir waterfiltrering en sedimentasie

Lourens de Wet

 
 
© Aquanutro 2002 | Disclaimer |