|
Waarom omgewingsvriendelike voere
Die onoordeelkundige
keuse en gebruik van akwavoere is nie alleen skadelik vir
die omgewing nie, maar kan ook produksie aan bande lê.
Lourens de Wet verduidelik.
Waterbesoedeling is oor die hele wêreld ’n groot
kopseer en die besorgheid rakende die impak van boerdery
daarop neem daagliks toe.
Voer voorsien primêr voedingstowwe
aan die vis, maar is ook die hoofbron van afvalprodukte daarvan
(sien Figuur). Voerverwante besoedelingskomponente in die
vorm van onbenutte stikstof, fosfate en organiese materie
oorbelaai die water op ’n onnatuurlike wyse en bring
merkwaardige veranderinge in water-kwaliteit mee, soos waterverryking
en alggroei. Gepaardgaande hiermee verswak die water se suurstof-dravermoë en
onderdruk visgroei aangesien die vis nou moet kompeteer vir
die verminderde beskikbare suurstof in die water. Daarby
word die opbou van besoede-lingskomponente geassosieër
met die vrystelling van skadelike gasse soos waterstofsulfied
en metaan wat ’n gesondheidsrisiko kan veroorsaak.
Tydens oes word die vang van vis en garnale vanuit gronddamme
vergemoeilik vanweë die ophoping van sediment en slik.
Soos akwakultuurproduksie uitbrei en intensifiseer, kan die
potensiaal vir die ontstaan van waterkwaliteit pro-bleme
nog verder vergroot.
|
|
| Die rol wat tipe voer en voedingsbestuur op die behoud
van waterkwaliteit het |
Gedeelde verantwoordelikheid
Die effektiefste manier om afvalstowwe te verminder is deur
die ontwikkeling van omgewingsvriendelike voere. Dit word
dus die verantwoordelikheid van die voervervaardiger om
voere te ontwikkel wat nie alleen aan wetlike voedingsvereistes
(Wet 36 van 1947) voldoen nie, maar ook aan omge-wingsvereistes.
Die verantwoordelikheid teenoor die besoedelingsdilemma
lê egter
nie alleen by die voervervaardiger nie maar ook by die boer. ’n
Omgewingsvriendelike voer het geen waarde indien dit on-oordeelkundig
aangewend word nie. Die onoordeelkundige gebruik van voer
in intensiewe akwakultuurstelsels het 'n merkbare afname
in die waterkwaliteit tot gevolg.
Natuurbewaringsregulasies word al strenger en meer en meer
druk word op boere geplaas om aan hierdie probleem aandag
te gee. Dit is dus vir die boer noodsaaklik om te weet tot
watter mate sy stelsel se uitvloeiwater besoedel is. Hierdie
inligting kan verder gebruik word vir ’n aanduiding
van drakragbepaling waar water hergebruik word. In ’n
poging om water besoede-ling in sommige Skandinawiese en
Europese lande te beperk, word boere reeds aangemoedig om omgewingsvriendelike
voere te gebruik en om water-kwaliteitsbeheermaatreëls
te implementeer. Dit word gedoen deur die addisionele belasting
van voere wat nie aan omgewingsvereistes voldoen nie.
Voedingsbestuur behoort voeromsettingdoeltreffendheid te
verbeter en voervermorsing en waterbesoedeling te beperk.
Swak voedingsbestuur
veroorsaak nie alleen besoedeling nie, maar het ook siektes,
stadige groei, lae oorlewing, en dus groot finansiële
verliese tot gevolg.
|
|
| Swak geformuleerde akwavoere veroorsaak
onnodige besoedeling |
Hoe lyk omgewingsvriendelike voere?
-
Dit bevat ’n hoër energie:proteïen verhouding
om sodoende stikstofuitskeiding te beperk. (Stikstof is ’n
afvalproduk van die proteïen-metabolisme van vis en
dus ook ’n besoedelaar.)
-
Die totale fosfor-vlakke in hierdie voere is oor die algemeen
laer as dié van konvensionele voere en bevat bronne
waarvan die fosforbeskikbaarheid hoog is.
-
Om die afvalstowwe vanaf voere te verlaag, word die verteerbaarheid
van voere en grondstowwe verbeter om ’n groter assimilasie
van voedingstowwe in voere deur diere te verseker met ’n
gevolglike beter voeromsettingsdoeltreffendheid.
- Waterstabiliteit word verbeter deur voldoende prosessering
(soos ekstrusie) en die insluiting van effektiewe bindmiddels.
Sodoende word beter korrelstabiliteit en minder voedingstof-uitloging
aan die water bewerkstellig.
-
Omgewingsvriendelike voere word geformuleer deur die wyer
benutting van alternatiewe proteïenbronne en die
eliminering van grondstowwe met onbekende antivoedingsfaktore
Verbeter voedingsbestuur só
- Voer die vis, nie die dam nie: dra sorg dat alle
voer verbruik word en ongevrete voer beperk word.
- Pas die voedingsfrekwensie aan by die visgrootte: kleiner
vis moet meer gereeld as groter vis gevoer word.
- Verhoog die voertoelaag indien die natuurlike voedsel in
die stelsel laag is.
- Pas die voerpartikel-grootte aan met die visgrootte: gebruik
groter partikels soos die vis groei.
-
Sprei die voer oor ’n groot area uit om te verseker
dat dit al die vis in die stelsel bereik. Dit verminder
variasie in visgrootte, kannibalisme en voervermorsing.
-
Moenie voer indien vis onder stres verkeer nie – hulle
sal nie veel belangstelling toon nie en gevoerde kos
sal verlore gaan en alleen bydra tot verswakte waterkwaliteit.
Verlaag die voertoelaag indien die watertemperatuur verhoog
of indien die opgeloste suurstof van die water te laag
is en die southeid daarvan te hoog.
- Voorsien effektiewe infrastruktuur vir waterfiltrering en
sedimentasie
Lourens de Wet
|